Charfontein se Geskiedenis

Die ontwikkeling van my Dohnekudde – deur C.J. Greyling

Wanneer ek my aandeel aan die ontwikkeling van die Dohne-Merino skaapras op skrif stel, doen ek dit met beskeidenheid.  Ek is bewus daarvan dat my aandeel slegs moontlik gemaak is deur die entoesiasme van ander boere wat dieselfde ideale gekoester het en deur die amptenare van die Dohne-navorsingstasie en landbouvoorligtingsbeamptes.  Gereelde besoeke, samesprekings, raad en veral hulp met seleksie het my gehelp om gekategoriseer te word as bobaasteler.

Met die oog daarop om jong boere en ander belangstellendes te inspireer tot nog groter hoogtes, gee ek kortliks ‘n historiese oorsig van die ontwikkeling van my stoetery as onderdeel van die Dohne-Merino-skaapras wat so ‘n groot bydrae tot die verbetering van die Suid-Afrikaanse vleis en wolproduksie lewer.

Die droogte en die depressie van die dertigerjare het menige jong man van die plase afgedryf.  Honger en ellende was ons voorland.  So moes ek byvoorbeeld die plaas verlaat, gaan werk soek en uiteindelik met graaf en pik op die pad beland.  Dit was harde werk maar ons moes leef en bedelaars kan nie kies nie.
Gedurende die veertigerjare het die regering lenings beskikbaar gestel om vee te koop en boere weer op die plaas terug te kry Ek het van die geleentheid gebruik gemaak, ‘n lening bekom en 100 Merino ooitjies gekoop.

Die Merino-skaap is ‘n baie goeie wolproduseerder maar weens sy swak konstitusie en vatbaarheid vir siektes en brommeraanvalle laat die aanpasbaarheid en lewensvatbaarheid van hierdie ras baie te wense.  Gevolglik is sy aanteelvermoë ook beperk.  Ek het besef dat ek nie met 100 ooie waaronder daar gereeld vrektes voorgekom het, ‘n betalende boerdery sou kon opbou nie.  Daar sal ander planne gemaak moet word.

My jongste broer, Koot Greyling, was destyds op die Universiteit van Stellenbosch.  Hy het daar in aanraking gekom met Prof. Swart van die Elsenburgse Landboukollege wat hom vertel het van ‘n klompie Duitse Merinoskape wat hulle vir proefdoeleindes ingevoer het.  Op daardie stadium was hulle reeds seker dat die skape weens hul sterker konstitusie ‘n aanwins sal wees.  Dit was ‘n behoefte om van die ramme oor die land te versprei om hul onder die verskillende klimaat- en boerdery omstandighede uit te toets.  Op die eersvolgende vendusie wat Elsenburg gehou het, het ek toe ‘n rammetjie gekoop.  Die doel was om my skaap se konstitusie te verbeter.  Sommige boere het my afgeraai weens die swak gehalte wol van die Duitse Merino.  Hulle was van mening dat dit die goeie naam van die Suid-Afrikaanse Merinowol kan bederf.

Mnr. Hubert Niehaus was destyds voorligtingsbeampte op Elliot.  Ons was toe reeds op my plasie besig om sekere landbougewasse uit te toets.  Onder sy leiding het ons besluit om met die proef voort te gaan.  Die eerste resultate was bemoedigend.  Die groeikrag van die lammers was verstommend in vergelyking met die suiwer Merino-lammers.  Die kruisings het die ander met ten minste 50% oortref.

In 1956 het ‘n aantal boere onder leiding van Dr. Heinischen na Duitsland gegaan om die Duitse boerdery, bees en skaap van naderby te ondersoek.  Daar het ek vir my vier ooie gekoop met die oog om met Duitse Merinos te boer.

In 1962 het ek na Mt. Curry-distrik, Kokstad verhuis omdat ek hier ‘n groter plaas kon bekom, sodat ek my boerdery tot ‘n meer ekonomiese eenheid kon uitbrei.
Die kruisings het ek intussen onder die naam “Halfslag Ramme” op die mark geplaas.  Hulle is in die pers geadverteer.  Vir ‘n andvertensie van een rammetjie, reeds in 1947 te Elliot, het ek nie minder as 101 aansoeke gekry nie.  Dit was toe reeds duidelik dat hier ‘n suksesverhaal besig was om te onwikkel.

Deur bemiddeling van Mnr. Niehaus, het ek in aanraking met die Dohne-navoringstasie gekom.  Daar is navorsing gedoen met betrekking tot die teel van ‘n ras uit die krusing van Duitse Merino’s en Merino’s.  Norme is opgestel oor wat die vereistes vir die kruisras sou wees: sterk konstitusie met die oog op gehardheid in die veld veral gedurende droogtes;  goeie wol ten einde die beste uit die Merino’s oor te dra sodat ‘n dubbeldoel skaap geteel kon word.

Nadat die norme aan verskillende boere oorgedra is, het ek by die skema ingeval.  Die naam van “Halfslag” is op aanbeveling van Mnr. Koot Kotze, van Dohne, na die “Dohne-Merino” verander.
Saam met mnr. Niehaus het ons vir jare lank die land deurreis en die beste Merino-boere besoek om ooie te soek wat aan die vereistes beantwoord.  Uit dié ooie en Duitse Merino-ramme wat ek bygekoop het, het ek toe voortgegaan om ‘n stoetery op te bou.
Die stoetery is soos volg opgebou: Slegs ‘n eerste cruising tussen uitgesoekte Duitste Merino-ramme en gekeurde merino-ooie is gedoen.  Daarna is die lammeroes geselekteer aan die hand van die neergelegde norme.  Uit die lammeroes is rammetjies en ooitjies geselekteer vir verdere stoettelery.  Van die vrugbaarheid van ramme en ooie is rekord gehou.  Die wol, groeikrag en toename in gewig, die melkprodusie van die ooie en alle ander vereistes is nougeset opgeteken.

Jaarliks het die beamptes van Dohne die stoetery besoek en op uiters nougesette wyse die seleksie gedoen totdat daar aan al die vereistes beantwoord is.  Enige lam wat nie in alle opsige beantwoord nie, is uit die stoetery verwyder, sodat geen swakhede oorgedra word nie.
Hierdie proses is oor ‘n periode van 40 jaar volgehou.  Baie koste is in die saak ingeploeg, maar die resultate is in alle opsigte bevredigend.  My ramme en ooie is vandag vegelykbaar met die beste elders in die land.  Vleisproduksie is so verbeter dat tweetand lammers 23-25 kg karkasgewig lewer.  Die vrugbaarheid van ooie en hulle melkprodusie is so verbeter dat ek tans reeds 149% lammeroes kry.  Tweelinge word deur die ooie gevoed.  In gunstige omstandighede is daar van hulle wat selfs drielinge groot maak.

Intussen het ek vir my vir rekorddoeleindes ‘n rekenaar aangeskaf.  ‘n Student van die Universiteit Pretoria, mnr. Philip Stander is besig om vir my boerderyprogramme te ontwikkel wat my in staat sal stel om ‘n eerste seleksie met die druk van ‘n knoppie te kan doen.
Kopers kan nou uitgebreide rekords bekom.  Hulle kan kies watter eienskappe hulle prioriteite aan stel om hul eie kudde te verbeter.
Ek is tans ‘n man van 75 jaar.  Ek geniet my boerdery elke dag.  Van die oorspronklike beginners van die Dohne-Merino is ek die enigste oorlewende.  Ons het egter deur volharding daarin geslaag om ‘n skaapras te teel wat gehard is vir die Suid-Afrikaanse natuur en wat uit en uit ‘n betalende onderneming is.

Aan die jong manne die volgende advies:  Stel mikpunte wat verbetering in die oog het, en streef hulle met alles tot jul beskikking na.  Maak vir dié doel volle gebruik van die wetenskaplike navorsingsinrigtings wat in ons land en oorsee bestaan.  Ek is nie ‘n geleerde man nie, maar die geleerdheid van baie bekwame en toegewyde beamptes was tot my beskikking.  Geen boer kan dus kla dat hy nie geweet het, of nie die middele tot sy beskikking het nie.  Alles verg egter volhardende harde werk en die nodige koersaanpassings om die doel te bereik.


© Charfontein.